Drie hoera’s vir die brug oor die Malgas rivier

Drie hoera’s vir die brug oor die Malgas rivier

Brûe is seker die mees gefotografeerde siviele strukture. Brûe vorm rame, brûe verbind mense, brûe bied veilige pas oor gevaarlike klowe en riviere. Mense ry soms ver afstande net om ‘n spesifieke brug oor te steek. Dit doen seker iets vir die ingenieursiel in elk van ons.

Soos die mensdom se ingenieursvernuf verbeter het, het obstruksies wat eens groot probleme veroorsaak het se belangrikheid getaan. Een so obstruksie, wat destyds hoofbrekings op die roete tussen George en Mosselbaai veroorsaak het, is die Malgas rivier. Ek wonder hoeveel mense in George woonagtig sal weet waar die rivier is, alhoewel baie daagliks oor hom ry.

Die Malgas rivier was voor 1870 oorgesteek by Cook se drif, ‘n gevaarlike kruising met die rivier wat destyds gereeld in vloed was. Cook se drif was egter noodsaaklik as een van die skakels tussen Mosselbaai en George. In 1871 word ‘n hout brug gebou en alhoewel die stadsvaders nie met die ingenieurs saam gestem het oor die ligging van die brug nie, het die brug vir 60 jaar gestaan met relatief min onderhoudswerk. Slegs die loopvlak is vervang met hout vanuit Knysna in die 1890’s. Met die groot vloed van Desember 1931 spoel die brug egter weg.

Op 29 Augustus 1933 berig die George en Knysna Herold oor die opening van die eerste beton brug oor die Malgas rivier. Mnr H J Raubenheimer (Voorsitter van die George Streeksraad) was die spreker en 400 mense het die geleentheid bygewoon. Blanche Raubenheimerhet die lint geknip onder luide applous en drie hoera’s vir die kontrakteur, Mnr Gibelio. Daar was selfs ‘n verbyvlug van twee vliegtuie ter viering van die pragtige drie-boog brug.

Die verkeer sedert die bou van die betonbrug het egter gou toegeneem wat die bou van ‘n dubbellaan brug genoodsaak het. Die bou van die nuwe brug in 1964, wat tot vandag toe nog in gebruik is, het ongelukkig beteken dat een van die boë van die ou brug opgevul moes word. Die ou brug staan egter nog, ‘n eens majestueuse ingenieurswerk, vandag vergete en onopgelet. Die brug is net links van die huidige brug soos jy die Malgas rivier oorsteek vanaf Heatherpark na Blanco. Cook se drif was geleë so 300 meter stroom af van die statige ou betonbrug.

Artikel en Fotos: Johann van Tonder

Trailrider

Trailrider

Johann van Tonder is ‘n boorling van George met ‘n groot liefde vir die Suid Kaap, sy natuur en geskiedenis. As redakteur, joernalis, radio persoonlikheid en storieverteller leef hy hom uit in die wêreld van motors en motorfietse en bevind homself gereeld in verskillende dele van die land op die nuutste motor en motorfiets bekendstellings. Onder die vaandel Trailrider Media verskaf hy motor en motorfiets verwante inhoud aan koerante, tydskrifte en verskeie radiostasies. Wanneer hy tuis is verken hy graag die area se agterpaaie op sy ysterperd op soek na nuwe stories en verhale vir sy reis blog en druk-titel Ultimate Lifestyle.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *