KAMMANASSIE BERGSPOKE…..

KAMMANASSIE BERGSPOKE…..

Was daar al die jare twee spookmeisies wat geloop het by Uniondale of het die Erasmus familie verkeerdelik geglo dis hul sussie oor wie Anton Goosen sy gewilde liedjie geskryf het.

Die oorspronklike spookmeisie Maria (Ria) Roux, ‘n verpleegter het op 12 April 1968 in die vroeë oggendure by Potjiesberg verongeluk toe sy saam met haar verloofde (Korporaal Michiel Pretorius) deurnag op pad was om reëlings te tref vir ‘n komende troue. Sy was in die oggendure saam met haar verloofde in hul Volkswagen kewer op die pad toe ‘n rukwind hul motor van die pad afgeruk en dit omgeslaan het. Sy was op die agtersitplek aan die slaap en is op slag dood aan kopbeserings.  Pretorius is beseer. Volgens die polisieman wat eerste op die toneel aangekom het, sers. Pat McDonald, was Maria geklee in ‘n donkergroen langbroek en blou baadjie. Sy het kort, donker hare gehad en het met haar kop op ‘n randsteen gelê.

 Die ryloperspook vra motoriste om haar by Porterstraat 2 af te laai – wat die motoriste verkeerdelik dink in Uniondale self is, maar haar ouers het in Riversdal gebly. In 1987 het ‘n groep parapsigoloë en Uniondalers na bewering vir Ria tot ruste gebring. Sy is laas in Mei 1994 gesien. Sy is ook op Goeie Vrydag 1980 ervaar.

Die tweede spookmeisie is Anita Erasmus (gebore 1958 te Klipplaat). Oor die Paasnaweek van 1978 is hulle saam Karoo toe om ouers te vra, maar die nag van 30 Oktober 1978 het die sprokie grusaam tot ‘n einde gekom toe hulle in ‘n raaiselagtige botsing naby die Barandas-afdraai op die Willowmore-pad betrokke was. Sy is op slag dood toe haar kop op ‘n randsteen te lande gekom het. Soos Roux was Erasmus ook verloof – aan Frikkie Wagenaar van Bloemfontein. Volgens gerugte het Anita ‘n paar maande voor haar dood haar lang hare blond gekleur en het sy die dag van haar dood ‘n wit rok gedra. Tydens die ongeluk met die voertuig was Frikkie en haar geliefde hondjie, Terry, ongedeerd.

Albei ongelukke het gebeur op presies dieselfde plek….TOEVAL of NIE….

Behalwe dat die oorspronklike spookmeisie, Maria Roux (22), ‘n donkerkop was, terwyl Anita (20) lang, blonde hare gehad het, is daar skokkende ooreenkomste tussen die dood van die twee meisies.

Hoewel die meeste ooggetuies ontmoetings met ‘n donkerkopmeisie gehad het, was daar ook ‘n geval van ‘n fietsryer wat ‘n blondine met ‘n lang wit rok opgelaai het. Dis dus inderdaad moontlik dat daar twee spoke kan wees.

Mense voer aan dat daar selfs meer is. Sedert 1928 word vertel van ‘n meisie geklee in die uniform van ‘n verpleegster wat langs die pad aan verbygangers verskyn het. Ook ‘n helderwit bal (orb) of ‘n blink staaf wat skielik uit die lug val.

So wees versigtig vir die Spookmeisies van Uniondale wanneer jy deur die Kammanassie Berge gly…..

Artikel: Elizma Liebenberg

Bron: Wikipedia

Elizma Liebenberg

Elizma Liebenberg

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *